KRY ’N SPESIFIEKE TYD VIR MAALTYE

Een voordeel van drie of meer maaltye per dag, is dat jy langer
versadig bly. Dit keer dat jy na ongesonde kosse gryp wanneer jy
honger raak, sonder om te fokus op wat jy eet.

Die grootste fout wat vroue maak wanneer hulle gewig wil verloor, is
om maaltye oor te slaan. Mense vertel graag van al die kosse wat hulle uitsny. Hulle eet niks deur die dag nie, behalwe vir aandete. Ten spyte daarvan, verloor hulle glad nie gewig nie.

Ontbyt is gewoonlik die eerste ete wat uitgesny word. Dít terwyl dit die belangrikste maaltyd van die dag is. Jy moet ná sewe tot agt uur se slaap sonder kos, jou liggaam se energievoorraad aanvul.

Ná omtrent vier uur het jou liggaam klaar die kos wat jy geëet het,
verteer. Ná vyf uur begin jou bloedsuiker val en gryp jy dan na die
eerste en beste ding wat jy sien. Hoe meer tyd tussen maaltye verloop, hoe makliker is dit om jou met die volgende maaltyd te ooreet.

Jy neem ook nie al die voedingstowwe in wat jou liggaam nodig het
nie. Jy sal dan die heeltyd aan hoëvet- en suikerversnaperings wil
peusel.

Gereelde etes voorkom dat jy jou ooreet. Só kan jy ook bewustelik op
’n spesifieke tyd by ’n tafel gaan sit en aandagtig eet. Jy is nie so
honger dat jy net iets gryp en afsluk sonder om te fokus op wat jy eet
nie.

Die nuutste navorsing wys dat drie etes voordelig is vir goeie
spysverteringsbakterieë. Wanneer jou liggaam nie besig is om kos te
verteer nie, maak die goeie bakterieë in jou derms jou spysverteringskanaal skoon.

Die goeie bakterieë is nodig vir immuniteit, jou gemoed, verbeterde
metabolisme en gewigsverlies.

Christel de Lange, dieetkundige en borsvoedingskonsultant