Gebruik jy kos as troos wanneer jy gestres, eensaam of depressief voel? Slaan ag op die emosionele redes waarom jy eet, sonder om jouself te veroordeel.
Van kleintyd af vorm ons assosiasies met kos. Ons koppel baie goeie herinnerings aan eet en samesyn, soos kinderpartytjies, troues, familiebyeenkomste en die vier van groot geleenthede.
Later gebruik ons kos as steunpilaar wanneer ons hartseer, eensaam, kwaad of gefrustreerd voel. Eet is dan ’n manier om emosies te hanteer en tydelik die leemte in ons lewe te vul.
Onderskei tussen emosionele honger en fisieke honger. Emosionele honger kom vinnig en intens. Jy wil dadelik iets baie spesifiek, gewoonlik met baie vet of suiker in, soos sjokolade of koek, eet.
Selfs wanneer jou maag vol is, voel jy steeds nie tevrede nie. Om vir emosionele redes te eet, laat jou met skuldgevoelens en magteloosheid.
Fisieke honger ontstaan geleidelik en jy is ontvanklik vir verskillende opsies. Jy kan stop wanneer jy versadig is en het nie skuldgevoelens ná die tyd nie.
Evalueer die voor- en nadele daarvan om emosioneel te eet. Dis belangrik om te erken hoe dit jou in die verlede al gehelp het. Dink aan ’n onlangse geleentheid toe jy te veel geëet het, omdat jy nie na jou liggaam se seine geluister het nie.
Maak nou ’n lysie van die voordele in jou lewe om emosioneel te eet. Het dit jou byvoorbeeld getroos en afleiding gegee?
Doen nou dieselfde met die nadele daarvan. Het dit jou byvoorbeeld geïsoleerd laat voel, fisieke ongemak veroorsaak en jou emosies afgestomp?
Benader hierdie lys sonder oordeel. Jy het bloot die mees beskikbare hanteringstegniek gebruik wat jy op daardie oomblik gehad het: trooskos.