Ons word soms gedwing om gou iets af te sluk. Maar probeer om die meeste van die tyd bewustelik en met jou sintuie te eet.
Eet moet nie net outomaties wees, terwyl jy lees, ’n boodskap op Facebook stuur, televisie kyk, dagdroom of beplanning doen nie.
Selfs al kan jy nie die heeltyd streng bewustelike eetgewoontes volg nie, kan jy steeds probeer om met aandag te eet. Moenie jou liggaam se boodskappe ignoreer nie.
Dink aan aandagtige eetgewoontes soos jy aan oefening dink: elke bietjie tel, en help. Probeer aanvanklik vir kort tydjies aandagtig eet, so vyf minute op ’n slag. Bou dan geleidelik daarop voort.
Gebruik al jou sintuie terwyl jy inkopies doen, kosmaak, dit bedien en eet. Dink hoe die verskillende kosse lyk, ruik, smaak en voel wanneer jy besig is om dit te verwerk, kook en eet.
Met jou bord voor jou, neem ’n oomblik om die kos en geselskap te waardeer. Let op die teksture, vorms, kleure en reuke. Wat is jou reaksie? Neem ’n hap van jou kos. Ervaar hoe dit in jou mond voel. Probeer om die verskillende bestanddele en geure te identifiseer.
Kou jou kos deeglik en let op hoe jy kou. Fokus op jou ervaring en hoe dit van oomblik tot oomblik verander. Voel jy dat jy besig is om versadig te raak? Neem jou tyd en bly heeltyd bewus van wat jy doen.
Eet stadig. Sit jou eetgerei neer tussen happe. Voordat jy jou eetgerei weer optel, vra jouself hoe jy voel. Is jy nog honger, of reeds versadig? Luister na jou maag en nie jou bord nie. Let op jou liggaam se boodskappe van versadig wees.