HOE OM MEER TE FOKUS EN MINDER TE WEEG

Die regte dieet of gereelde en doeltreffende oefening waarborg nie noodwendig gewigsverlies nie. Die geheim vir ’n beter jy is om meer bewustelik te eet en te oefen, sê kenners.

Jy is seker ook al moeg vir die beloftes van ’n nuwe dieet wat al daardie oortollige vetjies sal laat wegsmelt. Of die nuutste dans of oefening wat almal op hol het.

Dit gaan nie soseer oor wat jy eet en hoeveel jy oefen nie. Dit lê veel dieper. Wat is jou verhouding met kos? En hoekom dink jy moet jy oefen?

Om in die oomblik te wees wanneer jy eet of oefen sal help om jou lyf sterk te maak en vorm te gee.

Jy moet bewus wees van hoe jy voel wanneer jy eet. Die effek op jou liggaam – goed of sleg. Jou sintuie en reaksies op dit wat jy eet is belangrik.

Jy is byvoorbeeld mal oor die tekstuur of haat die smaak. Is jy regtig honger of net lus vir iets soet?

Bewustelike oefening beteken dat jy heeltemal teenwoordig is in die oefensessie. Jy kan nie uit-zone tydens ’n Zumba-klas of op autopilot in die gim wees nie. Of na ’n YouTube-video kyk terwyl jy ’n paar vinnige opsitte doen nie.

Jy konsentreer op jou vorm en laat elke oefening tel. Om op te daag en outomaties te oefen sal resultate gee, maar jy sal beter, vinniger resultate kry as jy bewustelik oefen.

En daardie resultate sal nie net esteties wees nie, maar het ’n klomp interne en eksterne voordele buite die gim. Dit verminder stres, jy geniet jou kos en oefensessies meer en sal gouer die lyf kry wat jy so begeer.